Beitel van der Merwe


Beitel v/d Merwe is Zinkplaat se baskitaarspeler asook een van die sangers.

Hy is in 1984 in Bloemfontein gebore en het in 2003 in Stellenbosch saam met Zinkplaat begin speel.

Beitel speel met ‘n 6-snaar baskitaar en gebruik ‘n Boss-pedal om ekstra klanke na die liedjies te bring. Hy skryf ook baie van die lirieke en musiek vir die liedjies.

In sy vrye tyd is hy besig om ‘n doktorsgraad in die reg te kry, terwyl hy ook vir ander bands soos The Orange Stilettos, Delta Blue en The Violent Free Peace jam.

Hoe (die moer) het ek in Zinkplaat beland?

My eerstejaar. Dis eerste kwartaal op Stellenbosch kampus en ek moet swot. Graad kry. Meisie kry. Klaar kry. Miskien ’n paar wyntoere deurwerk tussendeur. As daar kans is. And then it’s back to Bloem…

…In Bloem het ek gehardloop saam met `n groep by die naam van “Springcan”. Hulle was almal heelwat ouer as ek. Baie talentvol en baie vreemd. Ek was in graad 11 toe ek op my eerste toer saam met hulle vertrek. My ma het gevoel dis die begin van die einde. Sy’t gehuil en haarself oorgelaat aan die moontlikheid dat ek bose geeste by een van die “hairy legged hippies“ by die fees gaan optel. Dit het nie gebeur nie…ek is wel ’n heerlike spesiale muffin aangebied wat waarskynlik sulke geeste kon opwek. Gelukkig het een van die Springcanners my ma se trane gereference en my geforseer om dit uit te spoeg. Later daardie jaar het ons deurgedring na die eerste Rockspaaider finaal in Potch. Ek glo ons het verloor toe ons Valiant Swart se “Cybersakkie“ verkrag het. Valiant was ’n beoordeelaar. Ouch…

Elkgeval, êrens in die tyd ontmoet ek ’n vriendelike knaap in Victoria straat. Hy ken ’n paar ouens van skool en saam, scheme hy, kan ons musiek maak… Daar is egter eers n “oudisie” wat moet plaasvind. Eh, okay? Ek enn koshuis buddy, David Krynauw is genooi. Later jare dink ek na oor die volgende line-up: Bertie, Beer, Basson, David Krynauw…Ek het seker die gig gekry oor ek ‘n weird naam het wat begin met ‘n B.

Na die audition, speel ek hierdie “Zinkplaat“ se songs vir my koshuismaats. Gemengde reaksies. “Is jy ernstig?“, “Klink bietjie rof“ (’n gedagte wat later die jaar deur ons vriend en producer Jurgen beaam sal word) en, vir die eerste keer,`n vraag wat ek nog baie sou hoor: “So…waar kom die naam vandaan?“ Ek weet nie. Ek weet eenvoudig nie…

In die weke na die oudisie leer ek my bass guru van Bloemfontein was reg…“Playing bass is an easy way to get into a band, man“. En nog later: “If you’re ever lost in a song – just turn the volume down and look at the drummer in a frustrated and disappointed way”. Juiste advies wat benut word tydens menigte van “Zinkplaat” se eerste optredes in Tollies en by my eerste KKNK. Jammer, Beer.

Ek kan nie onthou of daar ‘n dag was wat ek besluit het om ‘n langtermyn commitment (‘n band is mos soos ‘n verhouding) tot die groep “Zinkplaat” te maak nie. Dalk het dit geleidelik gebeur. Die kombinasie van gees, musiek en persoonlikhede het in die jare sedertdien my brein bederf met die tipe herinneringe wat ek vermoed ’n goeie lewe kan definieer. Dit blyk of almal nog amped is vir nuwe horisonne van musiek en gees…en daarvoor is ek dankbaar. Hierdie lyne uit ’n onlangse liedjie som die gevoelens naastenby op:

“Ons swerf al sewe jaar deur die stof en die reen.

Deur musiek en vriendskap meegesleur.

Die vroee oggendure bring ons hoop weer terug.

Daar is iets in die lug.

Elke nuwe dagbreek se: “Bring vir ons daai horison!“

My ma hou van Zinkplaat en ek speel selfs deesdae met die volume op…

Terug na Die Band