Bertie Coetzee


Bertie Coetzee is Zinkplaat se hoofsanger en die stigter van die band.

Hy is in 1984 in Prieska gebore en het op Hoërskool in Stellenbosch begin liedjies skryf.

Hy speel mondfluitjie, akoestiese en elektriese kitare asook klavier en tamborein en skryf meeste van die lirieke.

Hy is ook ‘n direkteur van De Plate Kompanjie saam met Porra en Beer.

Hoe het ek in Zinkplaat beland?

As ek wil verduidelik hoe ek in Zinkplaat beland het, sal ek moet begin by die begin. Dit was immers ’n baie lang en interessante samevloei van kwaad (goed?) wat gemaak het dat ’n boerseun van Niekerkshoop, ’n emo jock van Bloemfontein, ’n rock & roll junkie uit die Rivers en ‘n skaterpunk van Bellville bymekaarkom om saam musiek te maak.

Ek kom van Niekerkshoop af, daar waar Elvis bly en waar die Karoo se bossies hom disnis loop teen die Kalahari se duine. Dis die harde wereld van kalkklip, grondpaaie, drie-dorings en steekgras, maar ook van rooi duine, kameeldorings, januarie-bos, koedoes, soetgras en haakbosse wat spierwit vertoon in die lente. Ons was 15 kinders in die laerskool en my Ouma was my onderwyser en skoolhoof. Ons kon byvoorbeeld spog met ’n grond- en kliprugbyveld waar jy dankbaar was as iemand jou neervel op ’n duwweltjie of ’n stuk klam perd-poef.

Waar my liefde vir musiek begin het, is moeilik om te sê, maar my eerste blootstelling was by Boereverenigingdanse in Die Hotel. Ek het onder die tafel gelê en die dansende voete dopgehou terwyl die basnote van “Maria, Maria”, “Going back west” en “Needles and Pins” deur my lyf klop. Later het ek al wat ’n gifsmous en buurman wat dit verby ons hond kon maak tot in ons voorportaal, vasgepen met my a capella-weergawes van Danie Botha se “O Bokka” of Leon Schuster se “Kaartjies, Naartjies en ander verkoues” vanaf sy plaat “Pale Toe”.

Einde 1992 is Niekerkshoop se skoolvlag laat sak vir oulaas, en het ek in die koshuis beland in Prieska. In 1995 het ek uit die bloute besluit dat ek ’n kitaar wil hê. Klavierlesse het nie ver gekom nie a.g.v. gehoortoetse en Leon Schuster se “Hie’ kommie Bokke” moes definitief ’n invloed gehad het op hierdie besluit. Na ’n paar kitaarlesse het ek geglo dat Albert Hammond “free electric band” vir my geskryf het. Toe volg my debuut op die groot stage – die Prieska Bosfees. Die redes: ek wou ’n nooi terugwen en die organiseerder het ’n blou noot voor my 12-jarige oë gewapper. Die repertoire: “Pretty Kabousie” van Leon Schuster en “I have a dream” van ABBA.

My musiekloopbaan het verder ’n drastiese (goeie) verandering ondergaan in 1999. Ek het intussen die groot skuif gemaak na die Boland en het een aand in Paul Roos se Prima Koshuis die radio aangesit… ”daar’s ’n dorpie wat ek ken tussen die blou berge, met die lower van die eike oor die straat”. Ek het eers gedink dis ’n joke, en dat een of ander dronk student dit opgeneem het in sy koshuiskamer…totdat die DJ my ingelig het dat dit my eerste ontmoeting met die berugte Koos Kombuis, en die Stellenbosch musiek-scene, is. In hierdie tyd was daar ’n musiekontploffing aan die gang, local bands soos Lithium, The Led, Springbok Nude Girls, Valiant Swart en baie ander het Stellenbosch se venues volgepak, skoolkinders uit die koshuisvensters laat klim, en studente ’n rede gegee om te veel Tollies draughts te funnel.

In hierdie jare het ek vir Beer, oftewel Cobus, leer ken as die vriendelike skateboarder en musiekliefhebber van Bellville; hy was ’n jaar jonger as ek, maar ons het gereeld musiekkennis uitgeruil. Hy het my ook meer as een keer herinner dat hy ’n lid is van die beroemde punk-band, “My Pet Sock”.

Basson was ’n dagskolier, maar ek en hy het saam uitgedraf vir die 0/14 B- rugbyspan. In matriek het ons saam Biologie gehad en het ons in die af klasse saam gesit en kitaar strum.

Dit is juis rugby, of die afwesigheid daarvan, wat my finaal na musiek laat draai het. My droom van uitdraf vir Paul Roos se eerstepan was verpletter toe ek twee skoueroperasies moes ondergaan. Al my CD’s is in dieselfde tyd gesteel. Die nooi op wie ek verlief was het ook in hierdie wisselvallige tyd besluit dat die kaait nie gat vlieg nie. Ek skryf toe my eerste twee liedjies, “Blikkitaar Blues” en “Jan Papier” en later, natuurlik, “Alles is OK” met verwysing na al die bogenoemde gebeure. Met hierdie songs skryf ek toe in vir ’n liedjieskryf-kompetisie wat ek self gereel het, genaamd “Rock & Roll Jannie”. Die aand verander toe in ’n fiasko deurdat ek gekies is as die wenner van hierdie kompetisie (tot vandag toe nog hoor ek nie die einde hiervan nie). Nietemin bevind ek en Basson (my baie skielike nuwe vriend) ons ’n week later in Sunset Studios om ons eerste twee songs op te neem. Jürgen von Wechmar was baie beleefd en het baie geduldig vir my gevra om dalk “note korter te hou” en om “net bietjie rustiger te strum”. Basson moes “minder note speel” en “meer vir die akoestiek luister”.

Met hierdie kortspeler van ons kry ek en Basson toe ons eerste paar gigs: in Bohemia in die middel van die skooleksamen, in Sirocco’s en Hidden Cellar en uiteindelik op die groot verhoog van Wingerdstok, waar ons besef het dat ons ’n rhythm section kort. Ons hark toe vir Beer nader, en ’n geheimsinnige kalant van Bloemfontein, genaamd Beitel. Albei se “oudisies” was ’n sukses: Beer kon nie ophou praat nie en Beitel wou nie ’n woord rep nie. Ek en Basson het geweet dit is die regte ouens en ons het ons eerste gig gebook in Tollies, 11 Maart 2003. ’n Maand later speel ons by KKNK en nog ’n maand later is ons debuut-album, Karoo Poison, op die rakke.

Dit is nou ag jaar, oor die 300,000 km in bakkies, trokke, busse, oorlaaide golfies, duisende vliegmyle en Black Labels, 4 albums, meer as 50 songs en 1000 gigs en net soveel spoedboetes, ‘n paar dosyn tjoppe en bokse wyn en menigte jams om kampvure en nagte op die grond, verder. Welkom by die avonture van Zinkplaat.

Terug na Die Band