Bertie sit sy voet neer (op ‘n ander man se verhoog)


(foto: Mark Reitz)

Die Fender Blues Deluxe amp is ‘n wonderlike instrument. Behalwe vir sy tydlose en stylvolle voorkoms, blink hy veral uit ten opsigte van klankopwekking. Sy volume knop gaan tot by 10, maar as jy hom so skuins duskant 1 draai, klink dit reeds asof daar ‘n vegvliegtuig langs jou opstyg.

Dis nie toevallig dat mense wat met Fender Blues Deluxe amps speel oor die algemeen ook van Tabasco sous hou nie.

Hy’s warm. Vuurwarm.

As ‘n toestel is hy nie veel groter as die ou standaard buistelevisies nie, en hoewel hy swaar is, kan ‘n gesoute musikant hom met een hand dra.

Wanneer jy een by die musiekwinkel bestel kan jy kies watter materiaal jas hulle vir hom moet aantrek. Vaal groene, gele en bruine pas hom die beste, en soos enige jasdraer sal getuig, dra hulle met elke skeur of sny net lekkerder. In die verkeerde hande is ‘n Fender Blues Deluxe amp ‘n wapen van massa musikale verwoesting. Dit het die vermoë om die meeste spesies wat tussen - 20 en 30 desibels ‘n lewe voer, permanent te verdoof.

Daar is ‘n goeie rede hoekom drummers verkies om agter die Fender Blues Deluxe te sit. (foto: Mark Reitz)

Soos meeste kitaarspelers wat hulle tande in die 90’s in garage-bands geslyp het, het ons kitaarslaner, Basson “Sonnie” Laubscher, sy loopbaan met ‘n Marshall amp begin. Marshall maak ook indrukwekkende klankversterkers wat mooi lyk, veral as hulle vier langs mekaar en op mekaar gestapel is, en in Wembley Stadion agter Brian May staan. In ‘n amateur se hande klink ‘n Marshall egter soos ‘n katorgie in ‘n konfytblik. Nes meeste swaarvoertuie, moet jy die regte pedale hê, en weet wanneer om hulle te trap, om ‘n Marshall te kan bestuur. Dis ‘n wonder hulle reik nie swaarvoertuig lisensies uit om die ding op Suid-Afrikaanse verhoë te mag vat nie. In ‘n motorhuis opset, waar talent en akoestiek gewoonlik ewe skaars is, is ‘n Marshall die oorsaak vir vele oproepe na mismoedige polisiemanne toe om klagtes van rusverstoring te opper.

In ons geval was Sonnie se Marshall ‘n groter probleem as gewoonlik, aangesien die toestel min of meer dubbel so groot soos die standaard musiekwinkel-Marshall van sy tyd was. Dit was Sonnie se pa, Oom Bakkies s’n, wat hy sedert die 1960’s op onverwagse ore by koshuisdanse losgelaat het. Dis een van daai wat met wielietjies uitgereik word, aangesien dit min of meer so swaar soos ‘n snoekertafel is.

In daai dae was ons ‘n akoestiese band. Bertie het ‘n gewone staalsnaar getokkel, terwyl Beitel sy baskitaar se volumeknop so sag gedraai het, dat die gesuis van die wind buite dit oordonder het. Ek het op Bertie se nefie se gebreekte tromme met halwe stokke gespeel, so tussen die drie van ons was ons ‘n beheersde akoestiese musiekgroep. Teen die tyd wat ons egter Sonnie se Marshall amp by die trappe opgekry het, en tafels en stoele uit die pad moes skuif om dit tot by die verhoog te kry, en dan die hele verhoog moes herrangskik om plek te maak vir die ding, was daar nie meer sprake van beheersdheid nie.


Sonnie oefen selfbeheersing uit. (foto: Flyinghorse Photography)

Sonnie het ywerig met sy speelding omgegaan. Hy het daai amp gemelk vir al wat dit werd was, en van ons ‘n band gehelp maak wat letterlik die dak kon lig. Dit maak nie saak dat ons nie mekaar kon hoor nie, en dat ons vir die eerste vier jaar glad nie naby ‘n noot kon sing nie. (Kenners reken in elk geval dat ons ook nie sederdtien naby enige algemeen aanvaarde noot sing nie.) Solank die mense in die dorp langsaan kon hoor dat Zinkplaat in die distrik was, was Sonnie gelukkig.

Koppel Sonnie se kitaaraanslag met my vermoë om enige rustige tempo in ‘n kwessie van een drumroll per ongeluk te verdubbel, en jy kry ‘n kakafonie wat die vroeë koerantberigte, heel eufemisties, “plaasgeraas” gedoop het. Bertie het immers bo oor dit alles nog ‘n vals bekfluitjie ook geblaas, terwyl Beitel se basskitaar net deur honde en walvisse gehoor kon word.


Plaasgeraas? These guys? (Illustration: Thinus)

Maar met die ouderdom en ervaring, het ons klank ‘n bietjie hier, en ‘n bietjie daar verander. Nooit in ‘n spesifieke rigting nie, maar eerder in ‘n paar rigtings, en gewoonlik sommer ‘n paar op ‘n slag.


Enter the synth. (foto: Mark Reitz)

Groot was ons verbasing toe Sonnie een dag ‘n kleiner en aansienlik ligter amplifeerder by ons oefenkamer indra. Dit was klein en kompak en geel, en ons was verlig om te sien dat al ons klagtes deur die jare uiteindelik die man laat besluit het om bietjie sy lawaai in te perk. Met die eerste noot was dit egter duidelik dat die Fender Blues Deluxe nie jou standaard beginners speelding is nie. Sonnie het daai eerste dag daai masjien op 3 gehad. Dit het ons ‘n week gevat om dit af te kry tot by 2, en toe maande later gee hy self toe dat 1 dalk beter sal wees. Teen die tyd het ons oordromme soos ou Shoprite-sakke in ons skedels rond gewapper.

Sonnie was een van die eerstes in ons uitgebreide vriendekring van musikante wat met sy Blues Deluxe kon toor. Hy kon sy kitaarnote in lava verander en venues se mure smelt. Sy oudste truuk as ons hom gevra het om sy amp sagter te sit, was om te sug, na die amp toe te loop, en dan sy hand ‘n sentimeter bo die volume knop te draai, en te maak asof hy dit regtig sagter draai. Dit moet een van daai truuks wees wat deur die jare van Hendrix na Page na Clapton na Knopfler na Cobain aangepaas is, want dit werk. En ons met ons reeds beskadigde ore het keer op keer daarvoor geval.


Sonnie se trademark move. (Foto: Gideon van Lill)

In Sonnie se verdediging, moet ek toegee dat die probleem met ‘n Fender Reverb Deluxe is dat hy soos `n Ferrari is. Eerstens moet hy opwarm voor jy voet in die hoek kan sit, en tweedens gaan hy in ‘n oogwink van 0 tot 100. Die geringste wikkel van die knop, vat hom van doodse stilte, tot by oorverdowende proporsies. Blykbaar meet die vervaardigers die volume knop in mikroskopiese mates, en die klank in kilometers.

Teen hierdie tyd het Bertie besluit om sy spaargeld te gebruik om een van Sonnie se tweedehandse elektriese kitare by hom te koop. Dit was een van daai moeilike transaksies wat tussen familielede plaasvind, en waar die terme en bedrae altyd vaag is, en die ooreenkoms obskuur. Nietemin, daarna het Bertie toe ‘n byl van sy eie om deur die klankgrens mee te sny. Ek sal nie sê dit was so opspraakwekkend soos toe Bob Dylan elektries gegaan het nie, maar dit was ten minste in ons midde ‘n waterskeiding toe Zinkplaat die dag die akoestiese kitaar neerlê.


Bertie goes electric, via Hip-Hop. (foto: Mark Reitz)

In die begin het Bertie hom maar oorgelewer aan die vreemde vodde amps wat op die land se vele verhoë diensplig doen. Soos elektriese weeskinders wat hoes en proes en gons en na wyn en kots ruik. Hier en daar vang jy ‘n lekker een, wat opgepas is en nog al sy knoppies het, maar die meeste van die tyd kry jy een wat met duct tape en spoeg aanmekaar gehou word. So het Bertie maar sy arme kitaar in al wat ‘n sieklike amp is ingeprop, en sy bes probeer om nie soos die 17-jarige skinny jean-draende retro-indie-punk kitaarspeler wat voor hom op die amp gespeel het te klink nie.

Ons toer toe weer eendag vir ‘n slag aleen van Stellenbosch na Bloemfontein en Potchefstroom en op pad Pretoria toe, maak ons ‘n draai by die befaamde Music Connection in Johannesburg. Die plek is ‘n mecca vir musikante en ons spandeer gewoonlik drie ure daar, al het ons net vir ‘n pakkie snare gekom. Toe die manne hoor ons wil amps huur vir ons toer, besluit hulle toe sommer om vir ons twee Fender Blues Deluxes teen geen koste te leen. Dit is ‘n spesiale dag in ‘n musikant se lewe as winkels of kroegeienaars begin om vir jou gratis goed te gee. Meeste Suid-Afrikaanse musikante wat nie na Huisgenoot se Skouspel genooi word nie, oorleef juis op die gratis drank, maaltye, instrumente en klere wat op hierdie wyse hulle kant toe kom.


Zinkplaat: Nie Huisgenoot Skouspel toe genooi nie.

Sonnie se oë het begin traan, en Bertie het baie ywerig gelyk om ook ‘n slag met so ‘n masjien te kon speel. Met ons aarsenaal klaar aangevul, haas ons toe deur die Johannesburg se verkeer om by Pretoria se Hatfield Square te kom. Deur die jare het ons al vele gigs in en om die Square gespeel, maar een spesifieke plek, wat toevallig onder die duiwelse Dropzone dansplek geleë is, het veral vir goeie herinneringe gesorg. Dis ‘n klein langwerpige plekkie, met ‘n lang kroegtoonbank aan die een kant, en ‘n voet hoë verhoog teen die verste muur. Dit was ons vyfde of sesde optrede daar, en het gelyk asof dit oudergewoonte ‘n lekker jol gaan wees.

Die bestuurder van die plek het ons van die begin af met brandewyn en Coke bederf, en aangesien dit soos ‘n tuis wedstryd gevoel het, het ons die gebaar met ope arms aanvaar. Soundcheck het goed gegaan, die plek het lekker vol geword, en met ons komplimentêre burgers en skyfies, het ons behoorlik met ons gatte in die Afrikaanse rock toneel se weergawe van botter geval.


Gratis kos en drank = Die pad na Zinkplaat se hart. (Foto: Reza Coetzee)

Anders as in die Kaap, waar mens amper altyd as agtergrondmusiek hanteer word, besef mens in Pretoria baie gou in jou vertoning of jou gehoor daar is vir jou, en of jy daar is om in die agtergrond te raas terwyl hulle uitgebreide gesprekke oor Die Blou Bulle met mekaar probeer voer. Ons was gelukkig. Meeste van ons gehoor het reg voor by ons gestaan. En al was die verhoog net ‘n voet hoog, voel mens sulke tye asof jy van ‘n hoër vlak af speel.

Tydens ‘n konsert is koppe wat knik en voete wat die maat van die musiek hou soos harde kontant in ‘n musikant se broeksak. Aan die einde van ‘n toer deur die hel self, is dit sulke gebare wat jou uit die kloue van die drank, en die dwelms en die demone red, bloot omdat dit alles die moeite werd maak. Die kersie op die koek is egter die saamsing. As jou gehoor saam met jou sing, en selfs soms jou woorde met meer passie as jy vir jou terugsing, gebeur daar iets wonderliks in die gedeelde ruimte. Dis pure simbiotiese sinergie. Die een kan nie sonder die ander nie. Die ervaring is net moontlik as woorde en klanke, en musiekliefhebbers en musikante op net die regte tyd bymekaarkom, om daai oomblik, vir ‘n oomblik, bo al die ander oomblikke om hom, te laat uitstyg. Hoewel mens seker gedesensitiseer kan word vir daai gevoel, was ons nog nooit so groot en suksesvol dat dit ooit minder spesiaal vir ons voel waneer dit gebeur nie. Musikante soos ons gaan soms maande sonder dit.


Saamsing is lekker sing. (Foto: Mark Reitz)

Dit is dus snaaks dat die bestuurder van die plek juis die aand waarop al hierdie dinge baie spontaan inmekaar gevloei het, besluit het om, in wat die wetenskap sekerlik as ‘n brandewyn beswyming sal klassifiseer, ons optrede, sonder rede, kort te knip. Ons konserte is al baie met ‘n liedjie of twee kortgeknip. Deels omdat ons gewoonlik baie lank speel, en deels omdat die SAPD blykbaar hulle tyd op belangriker goed as geweldsmisdaad wil spandeer.


Die verkeerspolisie is ook mal oor ons.

Gewoonlik in so ‘n geval sal die promotor of bestuurder om verskoning kom vra omdat hy of sy nie die tyd dop gehou het nie, of vergeet het om die maandelikse omkoopgeld aan die SAPD te oorhandig. Hierdie bestuurder was egter ietwat anders. Hy het ons in die middel van ons optrede kortgeknip deur ons klank af te sit en sy jong DJ te beveel om twee keer harder as wat ons gespeel het, “Kaptein span die seile” oor die inhuis klanksisteem te pomp. Wat hy egter vergeet het, is dat ons die verhoog met twee Fender Blues Deluxe amps gedeel het. Hy was seersekerlik ook nie bewus van die feit dat Beitel in die jare sedert ons eerste konserte geleer het hoe om aardbewings met sy baskitaar te veroorsaak nie, en dat ek geleer dromspeel het lank voor ek besef het dat dromme ook deur mikrofone versterk hoef te word. Ons was dus meer as opgewasse om tot hierdie spel van “Chicken” toe te tree vir ‘n klanke koppestamp kompetisie.

Om in die helfte van ‘n lekker konsert, voor ‘n klomp lojale ondersteuners deur “Kaptein span die seile” in die rede geval te word is iets wat ‘n geharde rock musikant oor die afgrond kan stuur. Dis nie soseer ‘n klap in die gesig, as wat dit ‘n staalstewel in die balle is nie. Mens voel erg verontreg. Dis hoe Che Guavara sou voel as hy tydens sy toespraak voor die Verenigde Nasies deur Ronald McDonald met ‘n Mickey Mouse ballon vol van Paris Hilton se parfuum in die gesig gegooi word. Hoewel ons niks meer in gemeen met Che Guavare as ‘n voorliefde vir baarde het nie, en hoewel Kurt Darren se musiek nie naastenby so erg soos Paris Hilton se parfuum ruik nie, is die ideologiese verskille byna dieselfde. Niks teen die Kaptein nie, maar ons skuit en sy seiljag seil na verskillende eilande toe. Hy sou in elkgeval baie meer verontwaardig as ons wees, as een van sy konserte ooit in die helfte onderbreek word deur ‘n Zinkplaat-liedjie.


Piekniek op die wat?”

Met die DJ wat skaapagtig met groot oë vir ons kyk soos iemand wat net sy bevele uitvoer, kry Bertie toe daai kyk in sy oë. Dis ‘n kyk wat ek al ‘n paar keer bevoorreg genoeg was om te sien. Dis ‘n kyk en ‘n uitdrukking wat met basiese gesigskartografie vertaal kan word as: “Jy sal nie vir my sê nie.”


Jy sal nie.” (Foto: PC Benade)

Vorige kere wat Bertie daardie uitdrukking gekry het, het dit direk uitgeloop op asemrowende avonture deur magiese landskappe.


(Foto: Gideon van Lill)

Dis ‘n ons-teen-die-wêreld, ek-sal-jou-wys tipe emosie, en dis uiters plofbaar. Met dié kyk in sy oë en sy bebaarde ken wat uitdagend gelig is, doen Bertie toe iets waarvoor Sonnie al jare lank wag – hy keer sy rug na die gehoor, draai sy Fender Blues Deluxe oop, en skree vir ons: “Fok dit. Ons speel!” Sonnie was so vinnig by sy amp, dat dit amper gelyk het asof hulle dieselfde idee op dieselfde tyd gekry het. Beitel het die storie so gekyk en toe sy kenmerkende skouerlig gedoen, so asof hy nie weet waantoe ons gaan nie, maar nie omgee om saam te kom nie. Met ‘n stoute glimlag draai hy toe sy amp ook oop.

Beitel met inlas, stoute glimlag.

Hoewel ons mikrofone af was, kon die bestuurder nie tot by ons amps se kragproppe kom nie, en speel ons toe so hard as wat ons moontlik kan. Van buite moes dit soos ‘n kakafoniese kortsluiting geklink het, en ek moet bieg dat Die Kaptein selfs in sy afwesigheid ‘n formidabele teenstander is. Met die DJ wat al hoe meer soos ‘n toeris in ‘n bokskruit begin lyk, wen ons toe ons gehoor terug. Toe hulle luidkeels begin protesteer en die DJ met “boo’s” bombardeer, kon die arme man nie anders as om aan die vyand oor te gee nie. As daar ‘n honderd van ons aanhangers was, sou dit baie gewees het, maar die manier waarop hulle aangedring het op die tweede helfte van ons optrede, was soos petrol op ons vuur. Met die DJ wat uiteindelik die sokkie musiek afsny, en die bestuurder wat woedend in die kombuis instorm, trek ons toe weg om druppel vir druppel die gehoor in sweet terug te betaal vir wat hulle vir ons gedoen het nie. En hoewel die mikrofone weer aangeskakel was, en die klanksisteem weer aan ons kant was, het ons nie die Fender Blues Deluxe’s afgedraai nie. Daarvoor was hulle darem net te warm.





-Beer Adriaanse

2011