Wat maak die lirieke van ’n liedjie goed?
Lirieke moet eerlik wees; as dit nie is nie, luister ek nie eers verder nie. Dit moet maak dat ek iets of ‘n idee waarmee ek goed bekend is, anders sien. Die frasering moet goed wees en die klanke van die woorde moet rol in jou kop. Daai dubbel-negatief waarmee ons altyd so sukkel moet nie so geskryf word.
‘n Ou in Zambië het, nadat ek op die stage gespring het saam met ‘n Bob Marley lookalike genaamd Sumatta Lubassi, vir my gesê: “You know my friend, if you’re a musician, you can’t just say ‘I love you’, you must say something different, like ‘My Darling, you look wonderful tonight.’ Ek dink as Eric Clapton bloot “I love you” gesing het, sou die song nie tot in Zambië getravel het nie. Dit is waaroor lirieke vir my gaan.
Watter vyf albums behoort elke musiekliefhebber op sy/haar rak te hê?
Bob Dylan - Desire
Foo Fighters – The Colour and the Shape
Counting Crows - Recovering the Satellites
Valiant Swart – Deur die donker vallei
Black Rebel – Motorcycle Club – Howl
Bruce Springsteen – Devils & Dust
John Butler Trio – Grand National
Jack Hammer – The Pilgrim
Fokofpolisiekar – Monoloog in Stereo.
[Een, twee, drie, vier … nege. Jou musikale aanleg maak gelukkig op vir jou tekort aan wiskundige aanleg – Annie.]
Dink jy die skryf van lirieke is die digkuns van die nuwe geslag? Is daar tegniese vaardighede wat bemeester moet word om ‘n goeie liriekskrywer te wees?
“I see myself as a poet first and a musician second. I live like a poet and I’ll die like a poet.” – Bob Dylan
Dis ‘n moeilike vraag, ek dink lirieke is ‘n baie makliker en vinniger manier om jou digkuns by mense uit te kry.
Oor die wisselwerking tussen musiek en lirieke: Kan die regte musiek lirieke goed maak of benodig musiek goeie lirieke om dit suksesvol te maak? Hoe het die een die ander een nodig?
Mense luister anders na musiek; baie mense luister byvoorbeeld glad nie na lirieke nie. Die melodie is dus baie belangrik, en dit bepaal of die lirieke werk of nie. Weer eens speel frasering ‘n groot rol. Die twee benodig mekaar soos braaisout en ‘n Karoo-tjoppie, soos grondboontjiebotter en ‘n volgraanbroodjie en soos blues en wyn!
Is die skryf van lirieke vir jou ‘n emosionele of logiese ding? Het jy maw eers inspirasie nodig om te kan skryf? Wat dryf jou om lirieke te skryf?
Emosioneel én logies. Ek word gedryf deur dinge wat my pla of frustreer en wat ek graag sal wil verander. Dan sal ek logies daaroor dink en skryf. Die uitdaging is altyd om te skryf oor dinge wat jou bly maak; dit is baie moeiliker as om te kla. Daar moet altyd hoop wees, anders sien ek nie die punt daarvan om ‘n song skryf nie.