Die KKNK is ’n vreemde plek
KKNK soos altyd…
of nie heeltemal nie. Vir die afgelope 5 jaar (ons het in 2006 besluit om dié fees te boikot omdat hulle nie genoeg doen om rock musikante te help nie, maar ons was toe die enigstes wat geboikot het!) het ons die tfyfelagtige eer gehad om by die jaarlike KKNK te speel.
In ons eerste twee jare (2003 en 2004) het ons saam met Spinnekop en Akkedis by Rock Art opgetree.
2005 was weer Rock Art met ’n bonus optrede by die RSG verhoog.
2006 praat ons nie oor nie en 2007 het ons en Die Helde op elke liewe verhoog wat beskikbaar was gespeel.
In al hierdie jare het ons nie een keer veblyf gereël nie. Van ons eerste KKNK af het ons altyd daar aangekom en dan soos ons in Baron van Rede cruise besef ons, ons het weer vergeet om verblyf te reël.
Ons eerste toertjie was om die mense wat by die Tentedorp werk te oortuig dat ons wel ’n staanplek gebook het, dan het ons ingery, kamp opgeslaan en dan as die nuwe ouens oorvat, het ons gaan vra waar ons bandjies is, want die vorige mense het gesê dit kom nog.
As ons wou bad het ons na die swembad buite die dorp gegaan en daar gaan swem. Alhoewel dit baie goedkoop klink, is dit al keuse wat ons gehad het. Die KKNK het nog nooit regtig vir alternatiewe Afrikaanse bands behoorlik hanteer nie. Veral nie die jongetjies nie. Ons vriende soos die Melktert Komissie en Klopjag kon darem hulle eie teater produksies lewer, maar rock bands moes maar rondval. Ek dink nie dis die KKNK se skuld nie, ek vermoed die aanvraag na ons tipe bands was net nog nooit so groot daar in Oudshoorn nie.
Dit was lekker om vir ’n hele week lank saam met Die Helde onder ons karre te slaap by laasjaar se fees. Ons het elke aand iewers gespeel, en dan die koue nag weg gaan drink by Godfather’s.
Van ons shows het al uitgereën, Bertie het al maaggriep ontwikkel en moes in die middel van een van ons konserte van die stage af hardloop, Basson het een konsert gemis, ons instrumente het al gebreek, weggeraak en deur dit alles was dit nog altyd lekker.
Die liewe Trouvrou (Natascha) het ons nog altyd gehelp om ons produkte te smous, terwyl ons self Zinkplaat wyn versprei het.
Dit was nog altyd ’n avontuur en by veral laasjaar se fees kon mens begin agterkom dat die belangstelling in rock-musiek uiteindelik besig is om te groei. Al ons, Die Helde, Foto Na Dans en die res se konserte is deur meer entoeiasitiese mense bygewoon en ons het almal darem ook vir die eerste keer die Krit gehaal. Ons kan vir MK daarvoor bedank.
Die Avontuur hou hierdie jaar aan, en hierdie keer word ons betaal, ons kry kos en verblyf en ons speel weer saam met al ons vriende, helde en mede rockers op die nuwe rock stage by die MK Kaktus Sessies.
Ons kan nie wag nie, sien julle daar…