Hoe nader ons aan Desember kom, hoe meer jeuk ons voete. Een van ons grootste tradisies nog se tyd kom weer nader en ons begin nou al soos Pavlov se honde kwyl.
Dit is natuurlik nou November. Behalwe dat dié maand vir ons, en almal om ons, eksamens bring, is dit ook die maand wat 30 dae van Desember af is. En Desember is bloot ‘n klipgooi van wonderlike tye af. Ek ruik dit nou al.
Desember 2005 het die verslawing begin. Zinkplaat wil hulle nuwe CD, Miskruier Gaan See Toe, op die onverkende en misterieuse Weskus gaan vrystel. Beitel reken hy sal ons aan die lewe kan hou met die vis wat hy elke dag uit die see uit trek. Basson wil nog sy Bodyboard vir die weer of die onweer (sic) saamneem. Beer wil net vriende saam neem en Bertie besluit hy wil met ‘n trok ry.
‘n Trok beteken meer mense. Meer mense beteken vriende, familie en dalk selfs nog ‘n band op toer. Vriende soos Skaap en Liam “Die Bison”, familie soos Christiaan en ‘n klankman soos Hendrik is as mede verkenners opgekommandeer.
Maar as ons met ‘n trok sonder ‘n radio teen ‘n kus gaan opry, en in elke dorp allen ‘n konsert gaan opsit, watter musiek gaan ons self luister? Dit sou bloot onverskillig wees om sonder goeie tunes teen die kus op te ry. Aangesien Bob Dylan nie beskikbaar was nie, besluit ons toe om ons goeie vriende, Die Helde, uit hulle stresvolle situasie uit te ontvoer. Almal van hulle, behalwe Paul, was besig om vir hulle matriekuitslae te wag. Soos ons reeds uit ervaring uit geweet het is dit nie ‘n gesonde tydperk om in jou ouerhuis te wees nie. Die dag toe ek met matriekeksamen klaargemaak het, in 2003, het ons saam met Delta Blue teen die ander kus begin toer. Ek het dus die waarde van so ‘n afleiding geken en kon dit hoog voorskryf.
Ons het teen bo teen die Oranjerivier begin. In vioolsdrif, op ‘n verhoog reg langs die rivier, het ons ‘n nuwejaarstydjie gehou. Bertie het die countdown verkeerd begin en helfte van ons bemanning het nie eers die nuwejaar gesien nie. Vandaar het ons dorpie vir dorpie teen die kus afgekruip. “Die Miskruier Gaan Weskus Toer” en hy slaap elke aand op ‘n ander strand. Hy speel elke aand om ‘n ander vuur. Die bemanning het soos seerowers begin voel en optree. Soveel so dat swaarde en sarongs aangeskaf is. Polisievrouens is gevry, plaaslike dogters is ontvoer en dorpe is geplunder. Waar ons sonder kos was, het ons CD’s vir vleis geruil. Waar storms buite gewoed het, het dronk ooms ons geherberg. Die trok het in die duine van McDougle’s Baai vasgesit. Die klankman is amper in Strandfontein aan voedselvergiftiging dood. Liam is a amper deur ‘n blonde meisie ontvoer. Ek, Bertie en Skaap is amper in Atlantis deur ‘n petroljoggie met ‘n haelgeweer doodgeskiet. Maar die wiele het nooit ophou draai nie.
Ná so ‘n avontuur is ons nie as onsself terug huistoe nie. Iets het verander en dit was goed. Daarna kon ons nog nie weer eenkeer ‘n toer sonder al die bogenoemde bestandele aanpak nie. In Mei ‘06 was daar die Noordelike Avontoer. Daarna was dit die Eerste Avontoer met Die Helde, Foto Na Dans, Slagyster, Dikazzins, The Orange Stilettos en Sondag Sensasie. Toe in Junie ‘07 gebeur die Ubuntoer met Die Helde en ‘n hele klomp seerowers. Elke keer het dinge net lekkerder en lekkerder geraak tot ons besef het, die enigste ding wat ons nou sal moet doen, is om ‘n tweede bus ook saam te neem.
Oor ‘n maand en 16 dae vertek
Zinkplaat,
Die Helde,
Foto Na Dans,
Lukraaketaar,
Straatligkinders,
Van Coke Kartel,
The Orange Stilettos,
Dikazzins,
Re:Aanrotweiller,
en Captain Stu & the Llamas op Die MK Avontoer. Die gawe manne by MK (die 89 is is begrawe) het besluit om hierdie keer as hoofborg saam te kom.
Een kus is te klein, nou slaan ons maar altwee.
Ons bring die berg na julle toe.
Die gety draai my vriende, ek sien julle op die kus.
> >
-beer