Uit ervaring uit, het ek weer net ’n rugsak vir hierdie jaar se De Plate Kompanjie-toer gepak. Wat ek egter net betyds besef het, is dat ons nie hierdie keer op ’n vyftig-sitplek bus teen die kus op sou ry nie. Ons sou nie in die somerweer van Desember op strande slaap en in die see swem nie. Hierdie keer het ons kompas Noord gemik. Na die koue winter van Gauteng toe. My warmbaadjie en langbroek, wat ek op die laaste minuut uit my vriend se kar uit gered het, sou in die volgende tien dae lewensbelangrik word. Dit was inderdaad weer seerower-tyd en soos mens verwag, gaan dit gepaard met partytjie en oorlewing onder vreemde omstandighede.
Uit verdere vorige ervaring uit, is hierdie toer uit die staanspoor uit ’n gepaste naam gegee. Die Ubuntoer ’07, as naam, term en beskrywing, was verteenwoordigend van 25 mense se gemeenskaplike bestaan vir die verloop van die toer. Soos die vaders van die toer, De Plate Kompanjie se drie jong entrepreneurs, Bertie, Porra en Beer in hulle toerbrief gesê het, “’n gemaksone is die ideale plek om jouself nooit in te bevind nie.”
Dit is uit hierdie leuse wat die seerowerkode onstaan het. Op ’n vorige toer is die Weskus in ’n ou lorrie aangepak. Ons jong bemanning van daardie dae is die onbekende in met net ons instrumente en ’n opgewondenheid oor wat buite ons gemaksone vir ons sou wag. Een van die toerlede het ná twee dae soos ’n seerower begin praat en optree en het vreemde sarongs en swaarde begin dra. Hierdie seerowermentaliteit het vinnig deur die hele toergroep gespoel en van daardie dag af was elke dorp soos ’n nuwe eksotiese stad wat verower moes word. Nuwe dinge is probeer, nuwe mense is ontmoet en boksies, of duifgate soos die Engelse sê, is oopgeruk, oopgeskeur en agtergelaat.
Die seerowerkode is toe terug Stellenbosch toe gebring. Stories oor vreemde plekke, partytjies en mense is op Bohemia se stoep en laat aande in koshuiskamers vir ander mense vertel. ’n Dorstigheid vir avontuur het onstaan. Soveel so dat toe die tweede toer aan die einde van 2006 aangekondig is, daar nie genoeg plek vir al die belangstellendes was nie. Hierdie toergroep het weer ander stories kom vertel en só is nog meer mense se nuuskierigheid gevoed.
Die vyf en twintig seerowers wat op die oggend van 16 Junie op die Neelsie Studentesentrum se parkeerarea in Stellenbosch bymekaar gekom het, was duidelik ’n klomp mense wat moeg was ná ’n lang semester. Die verwagte lang gesigte en rooi oë van mense wat vieruur die oggend moes opstaan, het egter plek gemaak vir opgewonde, rokende en selfs drinkende mense in kleurvolle gewaad. Soos hippies wat formeel probeer lyk.
Met ’n gemiddelde ouderdom van 21, was die toergees jonk genoeg om al vroeg met grappe te begin. Die enigste drie meisies tussen 22 jong manne, trek soos verwag, die meeste aandag.
Dít is dan ook blykbaar die punt van dié toer. Die geel trok wat as vervoermiddel vir hierdie avontuur sou dien, was reeds vol kleurvolle plakkers geplak. Die name Zinkplaat en Die Helde, die twee musiekgroepe waarom Die Ubuntoer wentel, wat saam met borge soos Beyerskloof en Bundi Productions in groot letters op die kant van die trok pronk, was ’n voorsmakie van die aandag wat hierdie toer beplan het om te trek. Soos een van die organiseerders en Zinkplaat se hoofsanger, Bertie Coetzee sê, “ 8000 kilometer op die pad tussen die groot metropole van Suid-Afrika, behoort iemand se aandag te trek!”
Ná 400 kilometer kon ek duidelik sien wat hy bedoel het. As jy op die N1 agter ’n kleurvolle trok beland, lees jy maar watookal agterop die voertuig voor jou staan. Toetende karre en mense wat hulle hande by hulle karre uitdruk om vir die trok te waai, was ’n aangename variasie op die padwoede wat gewoonlik met ons land se paaie gepaardgaan.
Voordat ons op die eerste aand in ’n verlate plaashuis buite Bloemfontein kon rus, was al die nuwe seerowers deur die veteraan seerowers gewys hoe om volmaak tot dié leefstyl toe te tree. Elke stukkie proviant wat oopgemaak word, word omgestuur. Net soos die Afrikane vir die Westesterlinge die konsep van Ubuntu probeer verduidelik het, was dit snaaks om te sien hoe nuwe seerowers al laggende hulle pienk melkies en hulle ma se toebroodjies in die rondte stuur.
So ook word slaapsakke en kussings vir dié tien dae gemeenskaplike eiendom.
Die snaakse ding is dat dit ’n ongekende tipe samehorigheid teweegbring. Alhoewel almal nie noodwendig vriende is nie, kom almal vir ten minste die loop van die toer, van die spreekwoordelike selfde plek af. Dit is ’n plek waar meisies in botteltjies kan urineer as die trok nie kan stop nie omdat ons laat vir die volgende konsert is. Dit is die tipe plek waar Moslems en Christene saam met daggarokers en grensgeval alkoholiste tot vieruur die volgende oggend kan sit en praat oor die sin van die lewe, omdat almal saam op een matjie in die middel van ’n groot onstpanningssaal moet slaap uit vrees vir verkluiming. Dit is die tipe plek waar almal onder die trok slaap in ’n karavaanpark in Pretoria en dan ’n bordjie slaptjips in Spur deel sodat almal hulle tande in dié restaurant se badkamer kan borsel.
Dit is die naaste wat ek al ooit aan die tipe samehorigheid waaroor my pa en sy vriende van die weermag van ouds praat, gekom het, maar dit is op soveel goeie maniere ook die verste daarvanaf.
Dit is pret om ’n moderne seerower te wees, want as my broodjie sleg proe, stuur ek hom om en ek weet weet jou lekker broodjie gaan my nou bereik. “Ek vermoed”, sê Porra een aand in die karavaanpark, “dat dít is wat die woord samelewing oorspronklik beteken het.”
-Beer Adriaanse