In 2002 beland ek op ’n manier op Paul Roos se leerlingraad. Ek het selfs sover gegaan as om te staan vir hoofseun, en sodoende met ’n volle 8 stemme weggestap (wat daar langs die Wiskundeklas op die muur opgeplak was vir almal om te sien). Een van daardie 8 stemme was egter definitief dié van Mnr Sakkie Swart wat sleg gevoel het omdat hy my met die kop geslaan het. (Dis ook hy wat vir my en Basson aangemoedig het om kitaar te speel in sy Biologie-klas sodat ons nie hoef te werk nie; dit was dalk die ware begin van Zinkplaat.) My kamermaat van 5 jaar, Justinus, was op die terrain-portefeulje (hy het 12 stemme vir hoofseun gehad). Sy groot toevoeging tot hierdie sogenaamde Leerlingraad was om ’n paar windverwaaide bossies rondom die matriekgronde te plant en dit ’n “heining” te noem – “jy weet man, soos daai goed wat mense plant langs kerke se paadjies.” (Ek moet net noem dat daardie bossies 7 jaar later nog nie beter lyk nie.) Hierdie was egter die groot inspirasie wat ek nodig gehad het om ook iets vir die gemeenskap te beteken.
Hierdie was die jare van Koos Kombuis, Akkedis, Spinnekop, Jakkie Louw en Valiant Swart; Paul Roos se eerste rock festival was dus ’n natuurlike keuse. Dit was voor e-mail bestaan het (vir my altans) en ek het elke pouse in kamer 14 deurgebring op die foon. Ek het vir Mnr Jock de Jager vertel dat dit die perfekte geleentheid is om die splinternuwe Paul Roos Sentrum in te lyf, vir Koos Kombuis verduidelik dat hy vir halfprys moet speel omdat dit sy alma mater is, vir Akkedis verduidelik dat hulle ’n bottel tequila sal kry bo-op die paar sente wat ek hul aanbied, en die kerk se klankman (Dawie Botha, nou die eienaar van Hometown Productions) oorreed om dit vir die gospel van goeie tunes te doen. Verder het ek vir Heinrich (ek het Paul Roos se Rhodes-beurs, ook bekend as “Mumbler”) Moller ingetrek as finansiële bestuurder en vir André-Pierre (ek is ’n joernalis by Media24, ook bekend as “Appel”) du Plessis ingetrek vir PR en algemene gees.
Terwyl ons besig was om aan ’n naam te dink, het Appel vir my sy password gegee om in te log op sy e-mailsisteem. Sy password was “gerooster”. Wat ’n vreemde password, dink ek… gerooster… geROOSter… ge(ROOS)ter… ONS HET DIT! Ek het my goeie vriend Herman (ek is ’n suksesvolle argitek, ook bekend as “Blokkies”) de Villiers forseer om ’n logo te design, die een wat ons nou nog gebruik. Ek het van toe af elke middag in Jetline deurgebring om die logo op R5 wit T-Shirts (wat Herman se ouma gemaak het) te stryk en dit dan by die skool te verkoop vir R25. Na die stryk-sessie het ek myself beloon deur Steers met die T-Shirt-geld te koop (ek dink mens noem dit deesdae “verduistering”, maar nietemin…).
Toe die show aan die gang was wou ons bietjie “hype” skep en ons besluit toe om die skool te laat stem vir die opening bands. Stembriefies het die rondte gedoen in registerklasse, en op hierdie lysie was daar ook ’n band “Zooibrand”, bestaande uit die uwe, my kamermaat (die terreinman), en Ryanhardt Landman (Marise van The Orange Stilettos se ouer broer). Die eerste drie bands sou die voorreg hê om by geROOSter te speel. Ek het in hierdie tyd Paul Roos se amper onoorwonne 0/14C rugbyspan ge-coach en hulle almal forseer om vir ons te stem. Zooibrand eindig toe na baie intimidasie vierde (uit vyf bands) en ek buig toe maar net die reëls sodat vier bands deurgaan i.p.v. die aanvanklike drie. Ons repertoire het bestaan uit “Nothing Man”, “Better Man” en “The Drugs don’t Work”. Ons het gelukkig ’n week voor die show besluit om kop uit te trek!
Die aand het gekom en meer as 1000 mense het die sentrum vol gepak. Die show het ge-open met Skaap Louw se “Die Meerkat eet nie Jêm nie”, daarna was “Karmanatural” (Basson van Zinkplaat het ook ‘n paar keer ‘n klomp misplaasde solo’s vir hulle gespeel), gevolg deur The Dominoe Effect (bestaande uit oa Piet Potent en JC van Mr Cat & the Jackal), Akkedis, en uiteindelik; Koos Kombuis (Steve was in Grey en Koos was in Paul Roos)…
Koos Kombuis wou vir my en die rektor, Mnr De Jager, donner omdat ek sy backstage-ingang se sleutel verloor het en hy fisies meer as 1000 mense uit die pad uit moes skrum om op die stage te kom, maar ek dink hy het my intussen vergewe.
In 2006 was daar planne vir nog ‘n geROOSter, maar dit was ongelukkig afgestel agv paar weird dinge wat by die skool gebeur het. In 2008 het geROOSter weer na ‘n hibernasie van 6 jaar die lig gesien, en vanjaar gaan dit groter en beter wees…sien julle by geROOSter 3!