Die MK Tweede Avontoer is Vrydagaand in Hermanus vir die eerste keer in die wiele gery.
Hermanus was die laaste stop van die eerste been van die Avontoer en Vrydagaand was die eerste konsert in Gecko Bar.
Die eerste moeilikheid het begin toe deurman nie die 70 seerowers en ander bandlede wat uit die busse uit klim, in die venue wou toelaat nie. Verder was die hele klub klaar vol mense wat nie betaal het om in te kom nie.
Nadat al die seerowers betaal het, kon hulle in die volgepaklte klub ingaan.
Op ‘n stadium was dit so erg dat lede van eF-eL nie by die deur kon inkom nie, terwyl hulle video binne op al die TV skerms gewys het.
Terwyl Reaanrottweiller die verhoog betree het vir ‘n gatskop afsluiting van hulle reeds suksesvolle eerste been, het die ry by die deur tot teen die pad gestrek.
Hierna was dit Slagyster wat die gehoor vermaak het. Ed, die tromspeler het ‘n Phil Collins gepull en oorgevat as hoofsanger, aangesien Herman in die hospitaal toe moes gaan na ‘n spinnekop hom gebyt het.
Terwyl Slagyster ‘n saamsing gehoor gehad het, het dit begin duidelik raak dat die gehoor te drukkend begin word. Niemand kon by die kroeg uitkom nie, en dit was byna onmoontlik om enige plek uit te kom.
Teen die tyd wat Lukraaketaar begin het, was die gehoor in ‘n feestelike bui, almal het saamgesing en voor die verhoog saamgedrom.
In die middel van hulle optrede het die polisie egter die hele konsert gestop omdat dit te vol was.
Terwyl Beer en Bertie met die polisie probeer onderhandel het, is Beer amper deur die polisieman geslaan omdat hy probeer argumenteer het en Bertie is amper deur die skokstok van die deurman bygedam.
Pierre het met groot telleurstelling van die verhoog afgekondig dat dit niemand binne die plek se skuld was nie, maar dat dit mense was wat jaloers was op hoe baie pret almal binne Gecko’s gehad het.
Dawie Bornman, die seremoniemeester lei toe die hele klub in ‘n saamsing van “Fokof…fokof polisiekar!” en toe word ‘n klomp glase gebreek en mense spring op tafels.
Op die ou einde het die hoofgroepe, Die Helde en Captain Stu nie eers gespeel nie en die klankmanne is geforseer om op te pak.
Volgens die bestuur was daar oor die 600 mense binne die 250-kapasiteit gebou en moes omtrent ‘n honderd by die deur weggewys word.
Later het die polisie die busse tot by ‘n Engen One-Stop gevolg en gekyk hoe al die seerowers vir hulle middernag munchies koop.
Toe ons uiteindelik by ons kampplek opdaag en rustig verder kuier, kom Marlene daar ingestorm en skree dat Dirkie (Foto Na Dans se drummer) deur dieselfde polisieman opgesluit is omdat hy ‘n slukkie bier buite Barney’s gevat het.
Hy moes toe die aand in die selle deurbring en sy vriend is heweglik aangerand deur die ander mense in die sel.
Hoewel almal verskriklik bummed was oor die aand, is die volgende aand beter bestuur. Terwyl The Orange Stilettos, eF-eL, Foto Na Dans en Zinkplaat gespeel het, het omtrent net so baie mense opgedaag. Almal is egter nie in die plek toegelaat nie, maar die De Plate Kompanjie het gesorg dat almal wat buite moes staan ‘n gratis Toer T-shirt gekry het.
Al wat ons kan sê is dankie dat almal so baie van ons toer hou en moenie jou steur aan mense wat die Anti-Gees is nie.
GEESeënde Kersfees en sien julle op die tweede been van die Avontoer.
-beer