‘n Onheilspellende lig sny deur die weskusmis en lei ons soos die wysemanne na die Lambertsbaai Kreeffees. Die feesterrein bestaan uitn tabernakel van ‘n tent wat net buite die dorp opgeslaan is. Dit kan meer as 4000 mense huisves en volgens n plaaslike burger het dit, “15 stuks mann week gevat om op te slaan.”
Ons getroue bakkie sleep by die kunstenaarsparkering in, en ons vind vir haar `n nederige plekkie langs die opslaantoilette. Die res van die parkeerarea is vol luukse silver Veto-en Quantum bussies.
Dis ons tweede aand by die Kreeffees en agter die verhoog is daar hoenderpastei op die spyskaart. Gewoonlik mik ons heel eerste vir die gratis kos by so `n geselligheid, maar die klanke van die verhoog se kant af, prikkel ons nuuskierigheid.. My kop tref die deurman by sy naeltjie, maar hy staan vriendelik opsy sodat ek die verhoog kan sien.
Die eerwaarde ds.Kurt Darren het sy gemeente op hulle voete. Met hande in die lug word daar selfs n paar babas tussen bierbottels rondgeswaai. Vanaand se preek is tot opn haar uitgewerk. Elke gesang dra n boodskap. Elke koorgedeelte isn simbool. “Kaptein, span die seile.”
Die vorige aand is ons met n paar ander boodskappe en simbole gebombardeer. Ons het net ná Juanita du Plessis opgetree. Ek het altyd gewonder hoekom Afrikaans as taal oor die algemeen begin stagneer het, maar ek het al my antwoorde in haar liedjie “Skarumba” gekry. Pleks daarvan dat ons die taal probeer lewendig hou en op vindingryke maniere onsself uitdruk, kan ons net so wel lukrake seemeeu guano sing, en dit hier en daar metn Afrikaanse woord afwissel. “Ar Ra Ree Yo, Skarumba…”
Die briljante Yslandiese klank towenaars, Sigur Ros, som hierdie tendens in hulle liedjie, “Gobbledigook” op. “So ar roau ee kur la mau…verkar nutchor, la la la la la la, tu neo santoras geeb geeb oh ishtrausse, intermeeaukeeder.” n Klomp van Sigur Ros se liedjies word in die taal, Hopelandies, gesing. Dis nien taal wat gepraat kan word, of wat enige iets beteken nie, maar dit klink bedonnerd en pas by die musiek.
Juanita, Guilome en Wicus v/d Merwe se “Koeroe Koeroe” is die res van ons musikante dus een voor. Dit is ook heel duidelik dat Afrikaanse gehore reeds hierdie tendens met ope arms verwelkom het. Teen die Weskus was dit so erg dat toe ons met ons instrumente ná Juanita op die verhoog stap, is ons met ys gegooi. In leketaal kan dit `n klomp dinge beteken, maar in hierdie geval was dit duidelik dat die hondsdol ysgooiers wat agtergebly het nadat die res van die kerk verdaag het, nie in hulle noppies was dat ons met instrumente sou optree en regte (outydse) woorde gebruik nie. Al wat my troos is dat dit gebeur het vóór ons begin speel het.
Die volgende aand by ds. Darren se diens was die skare in so `n toestand van ekstase dat ek seker is hulle het vir n oomblik vergeet dat Jacob Zuma president gaan word. Terwyl ek daar staan besef ek dat ek self nie eintlik meer bang is vir “umshin’ wami” nie. Ek is egter bang dat die baasbrein agter De La Rey, Sean Els, binnekortn Afrikaanse weergawe van die liedjie gaan uitbring. “Bring my voorlaaier.” By die Kreeffees het ek n knaap metn groot swastika op sy bors raakgeloop. Ek vermoed “bring my voorlaaier” sal sy nuwe persoonlike slagspreuk raak. Kort hierna sal Emo Adams dalk “Bring my pyl-en-boog” uitbring en voor ons ons oë kan uitvee sit ons met n hele nasie wat hulself onbewustelik wil bewapen. Al wat hierdie kruitvat dan gaan nodig hê isn katalisator. Soos Mandela wat doodgaan.
Ons moet dus, as `n geval van nasionale nood, populêre Afrikaanse musiek vernietig. Enige iemand wat meer albums as Koos Kombuis verkoop, moet in die tronk gegooi word. Ongelukkig sluit dit omtrent elke backtrack kunstenaar sedert Steve Hofmeyer in, maar soos hy self in minstens een van sy Bloubul-treffers sê: “Vat een vir die span!”