Op die vooraand van Die MK Derde Avontoer, wat so op die oog af heeltemal belaglik klink, het ons besluit om weer studio toe te gaan.
Ons sit al die heel jaar lank op ‘n paar riffs en ‘n sak vol lirieke, maar die afgelope twee weke het ons oortyd begin skaaf aan die nuwe liedjies. Een van die eerstes, “Mooi Besoedeling”, het ons al saam met ons op Die Ubuntoer II in Junie gesleep, die res is almal nog in die mou.
Dit gaan die eerste keer wees wat ons in die somer ‘n CD gaan opneem. Gewoonlik werk dinge so uit dat ons in die middel van ‘n reënstorm by Jürgen von Wechmar se Sunset Studios inval. Sy studio is diep in Helshoogte se berge weggesteek. Tradisie behels dat ons ‘n kaggel aansteek, ongelooflik baie rooiwyn drink, en al ons vriende nooi om saam met ons te kom chill., terwyl dit reën en haal buite.
Hierdie keer gaan die son skyn en ek vermoed Bertie sal dalk ‘n braai buite die studio pak. Miskien sal ons selfs bietjie swem in die plaasdam. Dalk kom die liedjies ‘n bietjie meer somer-agtig uit.
Ons hoop om ‘n musiekvideo vir een van die liedjies te maak en dit voor die album op MK te hê.
So gepraat oor musiekvideos, ons splinternuwe musiekvideo vir “Hondeklipbaai” behoort binnekort op die lug te wees. Ons goeie vriend en director, Stephanus Rabie, het die shoot in ‘n vervalle huis in die Helshoogte-berge gereël. ‘n Klomp van ons vriende het as extras deurgekom en die partytjie aan die gang gekry. Chatta’ Box-wyn het geloop soos ‘n Jet, en die extras se boude aan die swaai gekry.
Behalwe dat dit ‘n mal partytjie was, het ons vriende van Tidal Waves, saam met Bertie na die shoot toe gekom en sommer ook in die video gespeel. Hulle kom vir die eerste keer saam op die Avontoer aan die einde van die jaar, so die toer gaan ‘n hele nuwe dimensie van klank bykry.
Comrade Neels, wat besig was om die nuwe Klipdrift-advertensie in Tulbagh te skiet, moes saam met ‘n maniak 3-uur die oggend deurry om in ons video ook te verskyn. Ons is dankbaar dat hy nog lewe.
Dis November, meer as ‘n maand tot die Avontoer, maar ek ruik al die see, en hoor al die dreun van mense by Die Groot Gees Fees III…ek kan nie wag nie.
-beer