My riller van ’n breinfilm

As jy nou ‘n geweer teen my kop hou tot ek vir jou sê wanneer ek al die skaamste vir Afrikaner kultuur was, moet jy maar liewer die handdoek ingooi. Gee eerder die geweer vir my en gaan huis toe. Teen die tyd dat jy rustig agteroor by jou huis sit en Die Burger lees, sal my gedagtes nog steeds by 2003 se KKNK trek. ‘n Maand later, as jy al vergeet het hoe jy my met net ‘n geweer en sulke gevaarlike gedagtes aleen gelos het, sal ek minstens al by 2008 se Tafeldruiwe Fees trek. Kort hierna sal ‘n knal gehoor kan word. Dit sal gevolg word deur die geluid van ‘n baie verligte liggaam wat die grond tref, nadat hy uiteindelik die stryd teen sy brein gewen en die sneller getrek het.

In my loopbaan as ‘n opportunistiese semi-professionele beroepsmusikant het ek genoeg breinfilm van “Die Afrikaner” opgegaar om ‘n dertien uur lange “horror” fliek te maak. Selfs die gesensorde weergawe sal ‘n ouderdomsbeperking van 33 dra. Om by die genre te hou sal al die hoofkarakters almal redelike goedgeboude, half aantreklike mans en swaar gegrimeerde meisies met groot borste wees. Al wat gaan verskil is dat daar nie ‘n “token black guy”gaan wees wat eerste kan doodgaan nie. Tensy Emo Adams as swart geklassifiseer kan word.

Om julle egter 13 uur van pyn en lyding te spaar, sal ek vandag die klimaks weggee.

Die toneel begin met my selfoon wat in my gatsak lui. Ek staan in ‘n biertent by die Tafeldruiwe Fees in Nysltroom. In die agtergrond is ‘n reusagtige verhoog wat deur “Sheldon”, die spietkop van Vetkoekpaleis, besit en bestuur word. ‘n Veertienjarige meisie is op die verhoog besig om Kurt Darren se “Loslappie” so erg te verkrag dat selfs Snotkop trots sou wees. In die horror-fliek is dit die deel van die klankbaan wat spanning veroorsaak. Ek antwoord my foon en my kollega en hoofsanger Bertie se stem is in my oor. “Kom gou na my toe, ek staan hier agter die verhoog.” Hy klink nie in gevaar nie, maar nietemin stap ek en Beitel in die verhoog se rigting.

Soos by elke ander fees, staan daar ‘n klomp stalletjies netjies in rye agter die verhoog. Spookasem, biltong, goedkoop Sjinese plastiekgewere, aanplak tattoes en vlymskerp jagmesse is die topverkopers. Ons sien vir Bertie in ‘n hittige gesprek in die skaduwee van ‘n khaki tent. Die ander persoon in die gesprek het ‘n khaki broek, khaki hemp, khaki vellies en khaki leerhoed op sy kop. Hy is heel duidelik besig om vir Bertie te “out-boer”. Oudergewoonte dink ons Bertie stry oor waar die beste biltong in Suid-Afrika vandaan kom, maar die eerste woorde wat ons hoor is, “ek is ook ‘n boer en ek stem nie saam nie!”

Ons kom vinnig agter die tent is nie ‘n biltongstalletjie nie, maar ‘n registrasiepunt vir “Afrikaners” wat deel van die “Stigting vir die vestiging van ‘n Boerstaat” wil word. Ek vra of Orania nie klaar genoeg is nie, maar kom agter die Boerstaat mik vir groter eksklusiwiteit. Net soos die AWB destyds vir P.W en F.W liberaliste genoem het, is Orania nie vir hierdie mense suiwer genoeg nie. Solank ‘n persoon egter Afrikaans en ‘n Christen is, kan hy deel word. Ek vertel hulle van my bruin vriend wat die mooiste Afrikaans praat wat ek al gehoor het en graag deel sal wil word. Die verleë kyk op die man se gesig wys egter dat bruin mense nie heeltemal deel van hulle meesterplan is nie.

Terwyl my gelukkige kollegas hulle ondersteunende rolle in my fliek beëindig deur die toneel te verlaat, kom ‘n khaki vrou uit die tent en vertel my dat bruin mense ongelukkig nie heeltemal deel van God se plan is nie. Ek sê vir haar dat ek ‘n bruin meisie het (wat ongelukkig nie toe of nou waar is nie) en dat ek nie kan sien hoe God backtrack kunstenaars sou toelaat, maar nie bruin mense nie.

Op hierdie stadium oorhandig die meisie op die verhoog die mikrofoon aan ‘n sewejarige seuntjie wat “Rock daai lyfie” van Nic Louw aanpak. In die fliek is dit ‘n teken dat die grillerigste gruwelike toneel begin het. In die skadu van die tent, met ou Suid-Afrikaane vlae wat om my hang, bereik my fliek sy klimaks. Met ‘n ernstige gesig vertel sy my van navorsing wat sy op die internet gekry het. Top wetenkaplikes het ‘n eksperiment in Amerika gedoen waar hulle ‘n wit man en ‘n swart man onderskeidelik met ‘n wyfiegorilla laat slaap het. Toe die witman klaar was, was die gorilla nie swanger nie. Die swart man het dit egter reggekry om die gorilla swanger te maak. Dit is blykbaar ‘n teken dat swart mense nader aan ape as aan mense is. Ek is stomgeslaan dat sy enigsins die internet kon baasraak, maar vra haar nie wie die arme mense is wat bereid was om gorilla seks te hê nie. Die uitdrukking op my gesig het hopelik gewys dat sy sopas my siel gebreek het.

Soos enige ander horror-fliek is dit nie die einde van die gril nie, dis hopelik net die toneel wat ‘n klomp mense laat opspring en uit die teater laat hardloop terwyl hulle opgooi. Die toneel eindig met Tupac Shakur se Changes. “I see no changes, all I see is racist faces, misplaced hate makes disgrace the races, we’re under, I wonder what it takes to make this”.

-Beer Adriaanse

TERUG