’n Blanko bank en my vreemde kultuur haal my in

Die einde was in sig. ’n Kort alkoholgedrewe toer wat na vele draaie begin einde kry. As ek terug by die huis is kan ek ’n drukspykertjie met ’n rooi plastiek doppie op ’n nuwe plek op die kaart van Suid-Afrika teen my muur vaspen. Witbank. Die rede hoekom ons in die Noorde is. Hulle betaal vir ons vliegtuigkaartjies en gastehuis. Drank nie ingesluit. ’n Betaalde avontuur deur Afrikana.

My neus het my tot by die boereworsstalletjie gelei. Boerewors ruik oral dieselfde. Dit proe egter nie oral dieselfde nie. Veral nie in Witbank nie. Witbank is een van die toksiese stede op die ou-Transvaalse rand. Blankobank. Soos ou apartheidsmeubels. Winston Churchill het hier in ’n myn weggekruip toe hy ’n jong soldaat in die Tweede Anglo-Boere-oorlog was. Ek kan sien hoekom.
Toe ons teen skemer, vyf mans met hulle instrumente in ’n viermankar, vir Witbank binnery, hoes en proes die stad sy laaste walms van die dag uit soos ’n ou hoer in Hillbrow voor haar nagskof begin. Ek is seker hierdie fabrieke werk deurnag om die lug só vuil te maak.
Die rede hoekom ons eers teen skemer die mynmetropool binnekom,is omdat ons ontsnapping uit Tswane nie volgens plan verloop het nie. Ons het ons bestuurder in die vroeë oggendure tussen gister en vandag verloor. Sy selfoon is, kenmerkend van Gauteng, die vorige dag gesteel. Alhoewel ons al vele kere op vorige toere by sy huis was, het die Tswane-munisipaliteit toegelaat dat nog twintig winkelsentrums soos wilde daggaplante tussen ons tydelike woning en sy ma se huis opskiet. Op elke hoek van elke vierrigtingkruising staan hierdie monsteragtige Toskaanse replikas. Almal het dieselfde winkels en restaurante en sonder getroue berge om rigting aan te dui, is daar geen manier wat ons onsself uit hierdie gevaarlike net kan wriemel nie.

Alles het skeef geloop toe ons by die Wêreldbeker-rugbytoernooi se openingsseromonie-uitsending in Hatfield Square opgetree het. Die duisende mense was daar vir een ding: Die rugby. Argentinië teen die gashere, Frankryk. Die feit dat vier kapenaars met instrumente in hulle hande voor die grootskerm waarop Naas Botha voorwedstryd kommentaar lewer staan en wriemel en geluide maak, het soos ’n Brian Habana onderskepping by die duisende rugby-ondersteuners verby gegaan.

Emille, ons drywer en lojale vriend, het ons langs die verhoog ingewag met ons enigste ander vriend, Black Label. Dit maak dat ons makliker kan maak asof ons omgee wie tussen Argentinië en Frankryk wen. Die openingseromonie laat my dink ek het per ongeluk spesiale sampioene saam met my schnitzel verorber. Dis óf dit, of die Franse seremonie-koördineerder het miljoene Euro op belaglike Flash Gordon-kostuums en onbruikbare kanonne spandeer. Dit lyk soos georkestreerde chaos. Die orkes is egter almal blind en doof en die dirigent is ’n alkoholis wat in die verkeerde losie ’n draai gemaak het.
Voor die wedstryd sy verbasende einde bereik het, het twee Ingelsmanne my om die hals kom val. Ek was net besig om die wedstryd te begin geniet, toe hulle ons eensame tafel betree. Ek ken hulle blykbaar. Engelsmanne? Van Pretoria? “Nee menere, julle dink seker aan ’n ander wit kind met ’n afro. Ek kom nie van hier af nie.”
Hulle lig my in dat hulle by Elsenburg swot en in Tswane is vir die vakansie. Dit verbaas my meer as die rugby resultate. Engelse juppies by Elsenburg landbou-college. Liewe Here, maar die land transformeer vinniger as wat ek gedink het.

Dié twee ontvoer my uit my geselskap uit en oorreed my om in hulle kar te klim. Alhoewel my linkerbrein ’n sirene aan die lui sit, maak my regterbrein asof hy dit nie hoor nie. Gauteng is nie so gevaarlik nie. Meeste verkragtingsslagoffers ken hulle verkragters. Gelukkig ken ek nie hierdie ouens nie.
Hulle stop my in die agtersitplek van ’n generiese klein studentekar. Ronde neus, klein kattebak en net twee deure vir as daar ’n brand uitbreek.
Hulle praat hopeloos te vinnig oor hopeloos te oninteressante dinge. Die doel van ons plesierrit word egter vinnig duidelik toe die soutie links van my ’n banksakkie uit die paneelkissie haal. Die soet reuk van cannibis sativa bestorm my neusvleuels terwyl ek kyk hoe hy ’n onhandige joint konstrueer.

Daar loop vreemde stories oor Gauteng-gagga rond. Dat dit in eter gedoop word sodat jy dink jy is hoog, maar eintlik word jy net aan die slaap. Dat dit meestal tuingras is. Dat dit op rioolplase gekweek word. Ek is egter nie een vir ouvroustories nie en vat maar ’n paar trekke vir die moontlikheid dat dit my Hatfield-ervaring kan opkikker.
Die soutie aan my regterkant bestuur in sirkels. ’n Bewegende target is moeiliker om raak te skiet. Sy toegerookte kar laat my aan my ou sinusdokter se spreekkamer dink. Wierook en boegoe en kruiereuke.
Nadat soutie nommer twee ’n bietjie te veel van sy eie medisyne gevat het, word dit duidelik dat ek so vinnig as moontlik uit hierdie partytjiekar moet ontsnap. As ek nou in ’n gesprek oor die sin van alles ingetrek word gaan ek nooit nog ’n Black Label raakloop nie. Ek oorreed hulle om my weer by my span af te laai sodat ek my aand saam met bekendes kan voortsit.

Ek kom net betyds by my manskappe aan om te hoor ons verskuif ons basis na die Oppikoppi-huis toe. Henry, die meesterbrein agter honderde duisende September-babbelasse, hou vir sy span’n amptelike jaarkuier en ons ken net die regte mense om ons daar in te kry. Emille en Trouvrou, soos twee getroue gidshonde lei ons deur die voorstedelike doolhof.
Die Oppikoppi-huis is, behalwe vir drie kamers wat tot teen die dak met drank gepak is, leeg. Die meubels in die swembad wys dat ons die kruin van die partytjie gemis het. Die vier oorlewendes wat staan en dans, gee lankal nie meer om wat om hulle aangaan nie. Ons stel onsself aan die drankberge bekend en toe aan die eienaar van die huis. Die tuin lyk bedrieglik normaal. Speelgoed wat die hele grasperk vol lê en self ’n hondjie wat tussen die lywe deur vleg, maak die gevoel van ’n huisparty soveel meer eg.
Soos sulke partytjies nou maar loop, het ons probleme hier begin. Ons hoofsanger se selfoon is die ewigheid in en dit lyk asof ons drywer en vriend, Emille, agterna is.

Dít en karsleutels wat wegraak, mense wat laatslaap en onbyt wat altyd eerste kom is ván die redes hoekom ons laat in Blankobank inry. Ons kan die feesterrein van die hoofweg af sien. Flitsende ligte, mallemeule, stalletjies en ’n klein verhogie waarop ons moet speel. Die fees is baie meer gediversifiseerd as wat ek van ’n myndorp verwag het. My teorie dat geld en klas die groot ewenaar is, kry dus verdere steun. Die mense hier is almal ewe veel van die myne afhanklik.
Baie dinge gebeur om my terwyl ek vir ’n solo-uitstappie rondom die feesterrein gaan. Ek drink die atmosfeer saam met ’n bier in. Ek kom te hore van ’n skoonheidskompetisie. Dit vind op ons einste verhoog plaas net voor ons speel. Ek drentel stadig deur die messe, biltong, plastiekswaarde en spookasem tot agter die verhoog waar meisies tussen ses en sestien soos pryskoeie deur hulle ma’s voorberei word. Dis soos ’n hondeskou met die meisies wat gelukkig is met ’n ligte kopvryf of ’n scooby snack as hulle loop soos vir hulle gesê word. My oë val deur die Patricia Lewis-replikas tot by ’n klein dogtertjie. Seker so drie voet lank met ’n kort frilletjies rokkie aan. Sy kan nie ouer as vyf wees nie en sy staan en huil omdat sy bang is sy gaan nie wen nie.

Die wêreld is swaar. Dit moes jy vroeg leer. Hier moet jy baklei om te bly. Haar ma tel haar teen die trappies op en op haar beurt wip sy haar boudjies oor die verhoog. Poseer. Draai. Poseer. Kameras flits. Die trane is meesterlik afgevee en verdoesel. Die beoordeleers knik en binne ’n oogwink is nog ’n kind se onskuld gesteel. Vir ’n oomblik het ek gesien hoe ek haar ontvoer en in Churchill se myn gaan wegsteek.

-Beer Adriaanse

TERUG