‘n Graad, ‘n plaat en ander boereraat

Kyk, ‘n graad is nou vir jou ‘n storie…

Die vraag wat baie mense onlangs vir my vra is: Hoe voel dit om jou graad na ag jaar te kry, hoe kry jy dit reg, en, wat leer mens daaruit?

Wel, behalwe vir die feit dat jy die gradeplegtigheid deurwroeg saam met jou vriende se laatlam broers en susters, behalwe dat jou ouers kopkrap omdat hul niemand by die gradeplegtigheid ken nie, behalwe dat die dekaan nie sy glimlag kan wegsteek uit verligting/blydskap/vermaak/ongeloof wanneer hy jou naam lees nie en behalwe dat jy baie geduld moet uitoefen wanneer jong nooiens wat sopas BRekLLB in twee jaar ge-cumm het die woorde: “8 jaar voorgraads…landbou!?” vermaaklik uitspoeg en dan weer vir ‘n wyle in afgryse herkou aan die idee, behalwe vir al hierdie dinge is dit ongelooflik bevrydend en mens waardeer die blerrie treurige opgerolde stuk pampier moontlik baie meer as enigiemand anders, selfs meer as wat jy self ooit verwag het jy gaan.

Wat mens leer daaruit is eerstens dat geen verduideliking die feit dat jy ag jaar aan ‘n vier jaar graad spandeer het dit enigsins vir enigiemand meer aanvaarbaar maak nie, selfs nie die feit dat jy twee van die jare glad nie geswot het nie. Al wat saakmaak is of dit vir jouself die moeite werd was. Ek voel dus tog ek moet probeer verduidelik deur ‘n paar staaltjies te vertel van my ag jaar as student in die rigting BSC Landbou-Ekonomiese Analise.

My studieverlengings het begin teen einde 2004, einde van my tweedejaar. Wilgenhof se ser het baie goed gedoen en ons was “nationals” toe by UJ, ek kan dit dus as verskoning gebruik vir my drie hereksamens wat in Januarie moes geskryf word. Ek klim toe eerder op ‘n trok wat deur Afrika ry saam met 18 ander Wilgenhoffers en ek mis my herre. Op hierdie trip het my lewe en perspektief op als en almal verander, maar my graad het begin sneeubal. In 2005 mis ek een ekonomie toets omdat ek ‘n Zinkplaat toer gereel het genaamd “die noordelike kaalvoet diversiteitstoer” sonder dat ek in my toetsdatums boekie gekyk het…schoolboy error. Later die jaar mis ek nog ‘n ekonomie toets agv die feit dat Wilgenhof die Sauer beker wen op die aand wat ek 21 word. Later die jaar maak ek ‘n paralaks fout met die datums in die einste boekie en mis my landbou-ekonomie eksamen terwyl ek by die see sit. Verder misluk my poging om ‘n dosent om te koop met Zinkplaat wyn verskriklik, en ek word na die derde poging uit die kantoor uit gejaag met ‘n “Coetzee…jy is nie eers halfpad daar nie!!!” Daar het ek geleer dat mens nie so ambisieus moet wees om te dink wyn kan jou deur enigiets kry nie, 17% is net te ver weg van amper!

In 2006 bring ons vir De Plate Kompanjie op die been en my landboubemarkings-dosent druip my vir swak klasbywoning, ten spyte van die feit dat ons groep se projek die “zinkplaat Unleaded” wyne was. Dit het my geleer dat mense baie eerder dom maar ywerig moet oorkom as slim maar domastrant, dit bring mens baie verder met gesagsfigure. Ek het geleer dat nie alle dosente musiekliefhebbers is nie, en dus sal jy nie sommer punte kry om een van jou eie komposisies met die kitaar voor te le as ‘n landbou-ekonomie mondeling nie, maar dat somminge dosente dit wel vermaaklik vind en jou selfs sal vra om die CD wat jy persent gegee het te teken na klas. Kies dus jou gehoor goed!

In 8 jaar sien mens die kampus verander, die Landbou-fakulteit was altyd so Afrikaans dat die een engelsman in die klas automaties “Soutie” gedoop is, in my finale jaar was ons 3 afrikaanssprekendes tussen 11 in die Landbou-ekonomie klas. WebCT is egter nogsteeds so vreemd soos hoenderwol in die fakulteit.

Op die ou-end hoef jy al hierdie dinge aan niemand anders as jouself te verduidelik nie. Die vraag is dus of ek al hierdie dinge sou leer en beleef as ek haastiger of slimmer of meer gefokus was op die bestemming? Wat as die bestemming stories is en jy sukkel om jou baard te verruil vir ‘n kredietkaart? Op die Wilgenhof trans Afrika Toer van 2004 het ek een aand laat wakker gebly by Kapisha Hot Springs in die noorde van Zambie, net suid van die Tanzanie grens. Die drie ouens wat die kamp bestuur, King, Joseph en Sunday, het saam met my wakker gebly en tuisgemaakte koffie gedrink en Bruce Springsteen geluister. Ek vra toe vir elkeen om iets in my dagboek te skryf en Joseph se boodskap het die leuse van die toer en my bestemming geword: “Man without story like tree without roots.” Dankie US, Wilgenhof en die Landbou-ekonomie fakulteit vir ag jaar van mal stories!




-Bertie Coetzee

2011