Vir die eerste keer sedert ons in 2003 na Bertie se plaas buite Prieska gegaan het om ons eerste CD, Karoo Poison, Klaar te skryf, gaan ons nou weer soontoe.
Op daardie oorspronklike pelgrimstog na die plaas het Basson sy kar in Leeugamka gestamp en Beitel het per ongeluk ‘n boerbok doodgery oppad plaas toe. Terwyl ons daar was het ons visgevang, Bertie en Basson het gejag en ons het sommer die CD cover fotos vir ons eerste E.P, Karoo Poison met Bertie se ma se mik en druk-kamera geneem.
Baie dinge het in die vyf jaar tussen toe en nou gebeur. Ons het honderde gigs gespeel, twee CD’s uitgebring, die land vol getoer en honderde nuwe vriende gemaak.
Deur alles wat gebeur het, was daar nog altyd ‘n stukkie van die plaas saam met ons. Vir die week wat ons daar spandeer het, en die liedjies wat ons daar klaar geskryf het, was dit op ‘n vreemde manier ons teen die wereld.
Ons was nie seker of iemand van ons musiek sou hou nie. Ons het nie geweet of die Afrikaanse mark (wat in daardie tyd sonder MK gesit het) dit ooit sou maak nie. Ons was nie bewus van enige ander jong Afrikaanse musikante nie, maar ons het steeds voort geploeter met ons groot drome.
Dit is eintlik gepas dat ons nou weer bietjie teruggaan. Ons vier hierdie jaar ons 5de bestaansjaar en moet erken dat die pad anders uitgedraai het as wat ons gedink het, maar op soveel maniere ook baie beter.
Ons het geen idee waarmee ons hierdie keer gaan opkom nie. Dalk skryf ons nie eers een liedjie nie, maar ten minste gaan ons weer van Bertie se ma se afval en plaasbeskuit kan eet en weer bietjie saam chill.
Sien julle as ons terugkom. Hou die fort.
-beer