Plunderfoniese plagieerders

Daar is baie dinge waarvoor die media en die publiek ’n mens kan vergewe. Bill Clinton kon sy vrou verneuk met ’n jong Withuiswerker, jok daaroor, dit erken, en uiteindelik daarvoor vergewe word. Snoop Dogg is al twee keer gevang met onwettige gewere en sakke vol dagga in sy besit, tog doen hy steeds baie goed op Mtv. Winona Ryder is hof toe gesleep nadat sy goedere uit ’n winkel gesteel het, maar sy maak nogsteeds flieks. Selfs die skeinheilige evangelistiese pastoor, Ted Haggard, waaroor onthul is dat hy ’n verhouding met ’n gay prostituut gehad, en dwelms by hom gekoop het, is tot ’n groot mate toe vergewe deur baie van sy volgelinge die bybelmedia groepe in Amerika. Daar is egter een oortreding wat lei tot die media se ekwiwalent van ’n kruisiging: Plagiaat.

In 2005 het ’n jong groep van Menlopark, No Comment, ’n rits uitdunne in die landswye JIP Rockspaaider kompetisie gewen met drie van hulle eie komposisies. Een van die liedjies, “Alles is OK”, het veral baie lof van beoordeelaars gekry. Toe No Comment tot die Rockspaaider finale deurdring het, het hulle die kans gekry om op nasionale televisie te verskyn. In ’n onderhoud wat op die musiekkanaal MK89 uitgesaai was, het die hoofsanger, Theunis Botha, die storie vertel van hoe hy “Alles is OK”, geskryf het. “Ek het een dag by die huis gekom en ek was gatvol vir die lewe. Ek gaan sit toe op my bed en dink by myself, eintlik is alles OK en alles gaan verby, die lewe is te kort om suur te word.”

Kort na die eerste uitsending van dié onderhoud en die daaropvolgende optrede van die liedjie voor duisende mense, het die Rockspaaider organiseerders ’n brief ontvang van ’n kaapse groep, Zinkplaat. Volgens dié brief het Zinkplaat reeds in 2003 “Alles is OK” geskryf en op hulle debuut kortspeler, “Karoo Poison” uitgebring. Ter nadere ondersoek was dit duidelik dat No Comment dié liedjie se naam, twee verse en die koor gedeelte verbatim vanaf Zinkplaat se oorspronklike werk geplagieer het. Dié groep se verweer was dat hulle, volgens die reëls van die kompetisie, tien persent cover-musiek kon gebruik in ’n unieke verwerking. Dit het egter nie die feit dat die groep op nasionale TV aangevoer het dat hulle self die liedjie geskryf het, verduidelik nie. No Comment is uit die kompetisie geskors en het kort daarna opgebreek.

In ’n kapitalistiese wêreld waar eienaarskap alles is, is plagiaat soortgelyk aan duiwelsaanbidding van ouds. Net soos duiwelsaanbidding, lei dit ook in meeste gevalle tot ’n heksejag in die media. Tydens plagiaat-heksejagte word beskuldigings soos vrot eiers rond gegooi en wie ookal getref word, sukkel lank om die stank af te kry. As ’n skrywer, joernalis of digter aan plagiaat skuldig bevind word, verloor hulle gewoonlik summier hulle werk en sal hulle sukkel om ooit weer ’n gerespekteerde skrywerspos te kry.

In die era van inligting is dit vanselfsprekend dat intelektuele eiendom ’n kommoditeit is, en dat die eienaars daarvan dit aggressief sal beskerm.

Plagiaat kry egter ’n komplekse dimensie by wanneer dit van die geskrewe, na die hoorbare beweeg. Alhoewel musikale plagiaat te doen het met woorde, is die note eintlike die interessante aspek daarvan. Om note van ander liedjies te vat en in dieselfde volgorde in jou eie liedjie te gebruik, maak deel uit van die meer komplekse sy van musikale plagiaat.

Daar is slegs ’n gegewe aantal note in die musikale leksikon en as mens in ag neem hoe lank die mens al musiek maak, word dit toenemend moeiliker om nuwe kombinasies uit te dink. Die gevolg is dat kunstenaars mekaar beskuldig van plagiaat weens spesifieke koord progressies wat skynbaar by mekaar gesteel word.

Wat musikale plagiaat egter nog meer kompleks maak, is die aard van die onstaan van rock ’n’ roll. Dit is alombekend dat sangers soos Elvis Presley, Bill Haley en ander wit musikante bekend geword het met liedjies wat in baie gevalle by swart musikante gesteel is. In daardie dae was dit vir swart kunstenaars moeilik om kommersiële sukses te behaal. Swart kunstenaars se musiek is as “race music” geklassifiseer en het nie die speellyste gehaal nie. Hulle liedjies was egter in baie gevalle goed genoeg dat wit kunstenaars dit kon sing en kommersiële sukses daarmee kon behaal. Die wet het glad nie die swart kunstenaars beskerm nie en baie van hulle, soos die Blues legende, Sonny Boy Williamson, is arm dood.

Dié gestelery het to gevolg gehad dat musikale plagiaat deesdae baie ernstig opgeneem word. Volgens die Washington State University se webwerf, behels musikale plagiaat dat ’n liedjie wat in inhoud ooreenstem met ’n ander liedjie wat jy al gehoor het, gekomponeer word en as oorspronklike materiaal voorgegee word.
In die internasionale arena is daar ’n paar hoë profiel gevalle van musikale plagiaat. Die bekendste hiervan is die geval van Vanilla Ice. Dié wit rapper het in 1991 reuse sukses behaal met sy treffer, “Ice Ice Baby”. Hy is egter kort na die sukses van sy liedjie gedagvaar omdat hy die uiters herkenbare basskitaar melodie van Queen en David Bowie se “Under Pressure” gesteel het. Sy verduideliking was dat sy melodie een ekstra noot by het. Hy het die saak verloor en dit het hom sy musikale integriteit gekos.
Om tred te hou met musikale plagiaat gevalle van die afgelope eeu, is die Columbia Law School Music Plagiarism Projek onlangs geloods. Hierdie projek ondersoek, analiseer en teken gevalle op van musikante en maatskappye wat mekaar dagvaar vir musikale plagiaat.

Een van die bekendste en langdurigste gevalle is dié van die beroemde blonde smeulsanger, Michael Bolton, wat al van 1994 af in ’n plagiaatstryd met die 1960’s sangpaar, The Isley Brothers, gewikkel is. Sy treffer “Love Is a Wonderful Thing” stem te veel ooreen met die broers se liedjie van dieselfde naam. Hy het onlangs sy tweede appèl verloor en moet miljoene vir sy oortreding opdok.

Wat egter baie interessant in Bolton se geval is, is dat sy plagiaat geklassifiseer word as onbewustelike plagiaat. Hierdie klassifisering het ontstaan toe George Harrison van die Beatles in die 1970’s ’n saak oor sy liedjie, wat baie soos dié van ’n ander groep geklink het, verloor het. Die regter het egter beslis dat alhoewel daar ooreenkomste was, was daar nie genoeg bewyse van doelbewuste plagiaat nie.

Hierdie tipe plagiaat is egter slegs op toepassing van musikale plagiaat, aangesien dit aanvaarbaar is dat jy onbewustelik ’n melodie êrens hoor en dit later onwetend in jou eie musiek gebruik. Die moelikheid met musikale plagiaat lê juis in die feit dat musiek tot ’n groot mate ’n oor-en-weer-gelenery is. Soos die bekende John Oswald oor sy omstrede knip-en-plak metode van komponeer sê. “Ek is besig met plunderfonie, maar ek dryf musiek vorentoe.”

Dit gaan interessant wees om te sien wat gebeur met die Red Hot Chili Peppers se plagiaat saak, want selfs Madonna het ’n plagiaat saak verloor met haar groot treffer “Frozen”. As die onaantasbare Madonna kan steier, kan enige iemand steier.

-beer

TERUG