Die Helde, 2004 – 2009

Dit was ‘n Woensdagaand op Stellenbosch, ons was halfpad deur die Beyerskloof Musiekmarathon en ek en Bertie was naby selfmoord. De Plate Kompanjie was nog nie ‘n jaar oud nie, toe ons besluit om ‘n weeklange musiekfees in Maart van 2007 te hou. Ons het alles in die projek ingestoot, en teen Woensdagaand besef dat ons jong maatskappy besig was om noot vir noot bankrot te speel.

Daar was net sewe mense by die konsert, minder as Maandag se 55 en Dinsdag se 47. Porra, wat toe nog ons finansies behartig het, het dapper die merch-stalletjie beman terwyl ek en Bertie mismoedig op die leë paviljoen aan maniere gedink het om met selfrespek uit die bedryf te tree. Ek kan nie onthou wie dit eerste gesê het nie, maar die woorde: “Ek het probeer, maar die wêreld wou nie saamsing nie”, is die lug ingegooi. Dit het ons soos ‘n wegholtrein getref en ons gemoed dadelik gelig. Dit was Die Helde se “Verskroeide Aarde”.

Lirieke het nog nooit tevore my situasie so raak opgesom nie. Die snaakse ding is, as jy vir André of Fred vra waar die lirieke vandaan kom, sal jy agterkom dat dit net nog ‘n weggooiliriek in nog ‘n weggooiliedjie was, en dat daar nie baie dinkwerk in gegaan het nie. Die Helde het nog altyd alles so maklik laat lyk.

Vandat ons twee bands se paaie in 2004 gekruis het, kon ek nog nooit ‘n bier gaan koop, my meisie gaan soen of toilet toe gaan as Die Helde eers die verhoog tref nie. Klokslag met die eerste note wat die liedjie inbars, het my voete ‘n lewe van hul eie gekry en my tot voor teen die verhoog gesleep. Daar het ek gewoonlik in lyn geval met mede-slagoffers soos Bison, Beitel, Bertie, Chris The Burgh, Basson, Luca, Daneel, Tertius en honderde ander, en gedans en gesing tot hulle die verhoog verlaat en die vloek verbreek is.

Ons twee bands het destyds saam die Weskus met ‘n trok ingeval en verskeie toertradisies tussen die duine en rotse en verlate gemeenskapsale tot stand gebring. Rug teen rug het ons elke aand plaaslike gehore oorleef, met ons instrumente ‘n pad deur die Weskusmis gesny en met vuur in ons harte terug Kaap toe gekeer. Sedertien het ons nog nooit sonder mekaar getoer nie.
Die Helde se jong energie was ons inspirasie om DPK op die been te bring. Hul vuurwarm optredes is die rede hoekom ons altyd ’n bietjie langer voor toere geoefen het en hul musiek was die klankbaan van honderde van ons gunsteling partytjies.

Halfdood gehore verander gou in dansende massas met André wat soos ‘n wolf in ‘n hoek die lirieke uitbasuin en met gebalde vuiste die pas op sy bors aangee. Dewie kleef verbete aan Dries se bass drum vas om rugmurg in die ritme te sit, met Paul, die metodiese soutpilaar, wat met sy kitaar die musiek vorentoe beur. En met swaaiende heupe weef Fred deur dit alles ‘n warm dik draad wat als bymekaar hou en die musiek anders as enigiets anders laat klink. Die lukraakste klomp ouens wat seker al ooit ‘n verhoog moes deel, maar net die regte bestandele vir ’n onvergeetlike partytjie.

Dit was ‘n eer om busse, trokke, verhoë, kampvure, slaapsakke, beddens, tente, instrumente, blikkieskos en ervaringe met hierdie mense te deel. In ‘n ideale wereld sou ons nog saam musiek kon maak tot op die ouetehuis se stoep, maar vir eers moet ons nou ons comrades groet. Salute, Brothers.

  • Beer (Zinkplaat en DPK)

TERUG