Daar is drie antwoorde op daardie vraag …
Seerowers lewe vir die avontuur in alles. ‘n Seerower word in ‘n sloot, of op ‘n sypaadjie, of in ‘n boom, of in iemand se klerekas, of op die strand, of in ‘n bus, of onder ‘n bus, of langs ‘n asblik, of in ‘n tent, of langs ‘n warm lyfie, of langs ‘n koei, of onder ‘n kar, of op ‘n jetty, of op ‘n verhoog, of onder ‘n verhoog wakker, en vat dit dan van daar af.
‘n Seerower aanvaar almal en alles as deel van die magtige misterie van die lewe. Moslem-busdrywers en Boeddhistiese bassists toer saam met Christelike kitaarspelers en ateïstiese tromspelers, met Joodse joernaliste en agnostiese ampdraers, Kabala-kameramanne en Rooms-Katolieke roadies.
Seerowers maak musiek, luister musiek en ondersteun musiek. As daar niemand by ‘n konsert opdaag nie, sal ‘n Seerower aleen voor staan met ‘n bier in die hand en die musikante op die verhoog laat voel asof hulle by Oppikoppi speel. Vir ‘n seerower bly die musiek nooit op die verhoog nie, dit word ná konserte na afterparties toe gesleep. In tente en om vure word instrumente saam met bottels wyn en blikkieskos in ‘n kring omgestuur. ‘n Seerower sing saam, al ken die seerower nie die woorde nie.
Seerowers werk goed in sirkels. Dan kan alles, alles, alles, makliker links om gestuur word. Hulle dans makliker in sirkels, hulle trance beter in sirkels, hulle lê makliker in sirkels.
‘n Seerower bring ‘n bietjie wilde natuurlikheid na die stad toe, en vat ‘n bietjie stad-energie na die natuur toe.
Seerowers dink anders. Seerowers hou van nuwe mense, en nuwe idees.
Seerowers volg nie die res van die wêreld se idee van dag en nag nie. Elke dág is nie ‘n nuwe begin nie, elke óómblik is ‘n nuwe begin.
Seerowers deel niks meer as die feit dat hulle alles met mekaar deel nie.